Geskiedenis
Die oudste skooljoernaal wat opgespoor kon word, begin met inskrywings vanaf 17 Maart 1903, van die Brandewynskuil Public School. Of die skool enige iets te doen gehad het met die ontstaan van die Goewermentschool te Leeuwdoorns, is nie duidelik nie en te betwyfel, aangesien daar ‘n gaping vanaf 10 Februarie 1909 (te Brandewynskuil) tot 21 Januarie 1919 te Leeuwdoorns is. Waarskynlik is die reedsgebruikte skooljoernaal van Brandewynskuil om besparingsredes aan Leeuwdoornsskool beskikbaar gestel toe ene Mnr. F.J.C. Maartens in 1919 hoof geword het.
Daar bestaan onduidelikheid oor die werklike ontstaan van die skool, maar volgens ‘n brosjure uitgegee tydens die kwarteeufees van die N.G. Gemeente op 13 April 1947, was die eerste skooltjie in ‘n kamer van die huis op Meadow View, van Mnr. A. Strachan, die oorspronklike eienaar van die grond waarop die dorpie Leeuwdoornsstad later aangelê is. Die eerste onderwyseres was ene Mev. Higgins, ‘n Engelse dame wat nie ‘n woord Afrikaans kon praat nie. Aan die ander kant kon die skoliere, almal boerseuns en –dogters weer g’n woord Engels praat of verstaan nie. Mens kan jou dus die verwarrende toestand voorstel wat daar geheers het. Dit sou insiggewend gewees het indien daar ‘n skooljoernaal bestaan het waarin hierdie fase aangeteken kon word. Daar heers uit die aard van die saak dus onkunde oor daardie tydperk.
Mev. Higgins is opgevolg deur ene Mnr. de Bruyn, ‘n rou Hollander. Hy was natuurlik ook nie Afrikaans magtig nie, maar mens kan jou voorstel dat kommunikasie darem heelwat meer gemaklik sou kon plaasvind tussen meester en leerlinge, aangesien die Bybel en Gesangeboek en baie ander geskrewe materiaal nog in Hollands was en die kinders gereeld daarmee in aanraking gekom het.
Later het Mnr. Strachan twee klaskamers op sy plaas laat bou. ‘n Onderwyserswoning is ook mettertyd opgerig. Hierdie skooltjie was geleë ongeveer twee en ‘n half myl vanaf die stasie of Leeuwdoornshalte wat in 1906 tot stand gekom het met die aanlê van die spoorlyn tussen Kimberley en Johannesburg. Op daardie stadium was Leeuwdoorns beskou as die mees sentrale plek vir ‘n skool, tussen die plase en die stasie. Daar was ook ‘n hotel, polisiestasie en ‘n winkel (Mnr. King se eiendom), asook uitspanplek vir transportwaens en die poskoets op pad tussen die diamantvelde van Kimberley en die goudvelde van die Witwatersrand. Dit kon dus ‘n taamlike bedrywige gehuggie gewees het in daardie dae.
1919
Die skool is geopen op 21 Januarie 1919 met Mnr.F.J.C. Martins as hoof van die skool op Leeuwdoorns, met 40 leerlinge op die rol, met as assistente Mej. L. Ball. Mnr. Martins lê ‘n joernaal aan en kla uit die staanspoor dat daar geen volledige opgawe van die skool se “meulielair” en ander behoeftes agtergelaat is deur die vorige “principaal” nie.
Gedurende die eerste maand van die eerste kwartaal van 1919, het die getalle van die skool heelwat gewissel en eintlik gegroei, want op 21 Februarie staan die getal op 65 en die skoolbesoek is bevredigend. Dit kom voor of Mej. Ball taamlik sieklik kon gewees het, want kort-kort word gemeld dat sy afwesig is en die hoof dan haar klas ook moes waarneem. Later moes die hoof se vrou uithelp weens Mej. Ball se siekte.
Toe die skool na die April vakansie weer open, is daar slegs 48 ou leerlinge en 4 nuwes. Op 23 Mei 1919 is geen skool gehou nie, aangesien die leerlinge en onderwysers met toestemming van die Skoolraad, ‘n tentoonstelling bygewoon het.
Gedurende die wintermaande van 1919 het siekte ook sy tol geeis. “Die skoolbywoning is swak, as gevolg van siekte van leerlinge en ouers.” Kinders was maar swak geklee en waarskynlik ook swak gevoed as gevolg van armoede, en die weerstand was maar min.
Op 27 Junie het die skool gesluit en het die dienstyd van Mej. Ball verstryk. Haar plek word met die aanvang van die volgende kwartaal gevul deur Mej. J. Jooste. Vroeg in die nuwe kwartaal slaan siekte weer toe en op aanbeveling van die distriksgeneesheer, word die skool gesluit tot 18 Augustus 1919.
Op 20 Oktober word een ou skolier toegelaat, maar word versoek om die skool te verlaat weens ongehoorsaamheid en brutale gedrag teenoor onderwysers. Hier volg ‘n gedeelte van die brief aan die Skoolraad gerig in verband met die saak:
Leeuwdoorns
25 Oktober 1919
Die Sekretaris
Skoolraad
Wolmaransstad
Meneer
…. Op 26 September. U verklaar die jonge ………. Dat hy die skool gaan verlaat en vra my toe om een sertifikaat, wat ek hom gegee het.
Dieselfde more stap hy met sy pyp om die skool om te rook en het dus sy voorbeeld op die kleiner skoliere afgedruk. Ek het met hom gepraat oor die saak en parmantig is hy van die skool weg. Die voormiddag wou hy geen werk doen nie….
Uw Dw Dienaar
So, die hoof het ook maar sy probleme gehad. Gelukkig het die res van die jaar redelik stil verloop en die skool sluit op 12 Desember vir die Desembervakansie.
1920
1920 Breek aan en die skool open op 20 Januarie met 59 kinders op die register. Mej. Bergh aanvaar ook diens. Die leerlinge, oues en nuwes, drup, drup maar weer terug en die getalle groei aan sodat daar na ‘n maand 71 leerlinge in die skool is.
Skoolbywoning was maar swak en leerlinge het maklik uit die skool gebly. As mens die moeilike omstandighede waaronder hul by die skool moes kom in aanmerking neem, is dit te verstane. Baie leerlinge moes lang afstande te voet aflê of met donkies of donkiekarre skool toe kom. Op 30 Januarie 1920 het bv. net 10 leerlinge opgedaag weens reën. Die bywoningssyfer is dus ver benede 50% en die wat wel opgedaag het, is maar huis toe gestuur. Dis is nogal ‘n algemene gebeurtenis gedurende die reënseisoen. Daar word ook maar kort-kort swak bywoning ondervind a.g.v. siektes soos masels, seeroë, waterpokkies, witseerkeel, ens. Natuurlik was luise ook ‘n algemene verskynsel van tyd tot tyd onder ryk en arm.
Na die Aprilvakansie aanvaar Me. Marais diens alhier as assistente.
Weens reën en slegte weer het daar op 14 Mei geen kinders opgedaag vir skool nie, dog die onderwysers was altwee teenwoordig. Gedurende Mei was daar nog vir ‘n hele paar dae nie skool nie, eers weens Hemelvaartdag – 13 Mei, reën – 14 Mei, Empire-dag – 24 Mei, tenstoonstelling op Wolmaransstad – 27 Mei (vakansie is vir die dag toegestaan) en op 31 Mei – Uniedag. Die skool sluit op 25 Junie vir die wintervakansie.
Nadat die getalle die afgelope jaar baie gewissel het, selfs gegroei het tot oor die sewentig, word daar verligting gebring wat die personeelvoorsiening betref. Mej. JS Jooste aanvaar diens as tweede assistente.
OM MEER TE LEES VAN DIE GESKIEDENIS VAN SKOOL, KLIEK OM SKAKEL ONDER

